Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Tuesday, February 3, 2015

Verstaan van Liefde, beinvloed die verstaan van God en daarom van gestuurdheid

LIEFDE die GROOTSTE opdrag:
Ek wonder of ons nie ons verstaan van God se hart verwater deur ons gebruik van die woord liefde nie.
Grieks gebruik mos drie woorde, een is eros, die seksuele liefde wat eintlik iets heel anders is en meer selfgesentreerd is as die ander. Dan ook filo liefde vir familie, wat klink soos 'n verbintenis nodig om te behoort aan 'n familie of dalk groep. Die derde woord is die eitnlike woord vir liefde wat God beskryf en dus ook 'n christen se strewe is. Die woorde wat dit beskryf is dinge soos fyn aanvoeling, prysgee van jouself, wees en doen goed aan ander ten spyte van jouself. God se opleiding hieroor kom in Christus as voorbeeld na ons toe. Gee posisie status en eer prys en word mens, word deel van vyande en 'n lelike wêreld en gee Homself as 'n offer tot die dood toe vir die wil van God. Dit is ongemaklik, seer, en teen jou eie strewe en oorlewings.
In ons kultuur sê ons maklik "Ek is lief vir lekker kos!" of iets dergliks. Hier gaan dit dus oor eie lekker gevoel, want dit is tog dwaas om vir kos om te gee soos Jesus. Nee, dit lyk asof dit meestal maar vir jouself 'n vervulling en lekkerte is. Met die manier van dink oor liefde verwar baie jongmense verliefdheid met liefde. Verliefdheid is eintlik maar selfsugtig en vervulling en lekkerte vir myself. Dit is natuurlik 'n tyd wat jy baie leer en bereid is om op te offer vir jou wederhelf, maar verliefdheid in algemeen lyk my is baie na jou behoeftes gebuig. Die lekker om belangrik te wees vir iemand, deel te word van 'n ander lewe ens.
Daar word dikwels gesê dat ek lief is vir bergklim of bestuur of wat ookal en die woord begin al meer die karakter kry van ek wat daaruit iets ontvang. Dalk moet ons 'n woord skep wat sal werk vir hierdie gebruik van die woord? Baie eerder die woord "hou van" gebruik, sodat dit nie met liefde verwar word nie. So kom ons nader aan Grieks waarin die nuwe testament gekryf was, wat drie woorde het. Met twee woorde kom ons dalk nader aan die betekenis van die woord.
Liefde is die grootste opdrag in die Bybel en as ek dit reg verstaan, gaan dit 'n transformerende effek op my totale lewe en interaksie met God, mense en skepping tot gevolg hê.
Dink aan 'n jong mens wat vir sy lewensmaat sê: "Ek is lief vir jou!" en dit beteken (Volgens Jesus se voorbeeld) iets van: Ek beskou jou belangriker as ek, ek wil God se wil vir jou, dat jy as mens ontwikkel, groei, blom. Ek deel jou lewe ter wille van jou, om myself te sien as iets soos 'n katalisator vir jou om te kan groei tot 'n volheidslewe. As dit help, sal ek die seerkry vat om dit reg te kry. Ek sien my eie status en eer as niks, want jy is belangrik nie ek nie. Daar is ook'n verbintenis betrokke wat betroubaarheid getrouheid, eerlikheid en ander waardes tot gevolg het.
Dink nou aan Suid-Afrika en die wêreld. Om dieselfde soort opofferende gesindheid te kan hê deur God se Gees, dit is iets van die inhoud van die woord LIEFDE.
Ek wonder of ons nie besig is om die betekenis van die woord te verloor nie. My verstaan van liefde bepaal ook in ln groot mate my verstaan van God, want daar word gesê: God is liefde! Help ons vertaan met wie ons te doen het.
Moet ons nie ons taalgebruik verander nie, want ons ken God? Geen mens kan vir roomys lief wees nie, want roomys kry geen voordeel daaruit nie!?
Toe ek agape prente soek deur Google, het daar heelwat erotiese prentjies ook deurgekom!...

Tuesday, November 18, 2014

Besonderse teenwoordigheid van die Here in Pebane en Derre

Dit is lekker warm en Wynand is daar in die rivier in die water tydens ons middagete. Ons het gehoor dat ds Velasco Acasio nie meer bly waar hy gebly het nie. In die omgewing waar ons gehoor het hy is, kry ons hom glad nie. Ons ry toe na die kerkie wat die naaste is aan Mulela self. Die roete vat ons op twee spoor paadjies wat later verdwyn en ons ry deur die bos tot daar. Die mense skrik hulle boeglam en hardloop weg. Na baie gelag oor die skrikmaak, hoor ons toe dat die kerkie nie meer bestaan nie, maar dat die ds in die dorpie self is. So is ons terug na die dorpie en na navraag kom ons by sy huis uit. Hy is nie daar nie en ons moes 2 ure vir hom wag. Dit gebruik ons deurdat die Moslem buurman ons rivier toe begelei en ons daar gaan swem om af te koel, alhoewel die water so warm is, mens koel net af as jy uitklim.
Ds Acasio daag op en daar is groot vreugde, hulle het net die oggend gewonder wanneer ek hulle weer gaan besoek. Gelukkig het ons 'n hoender in Ile present gekry. Ons kon nie ooreenstem of dit dit 'n haan of hen is nie, maar ons het dit agter in die bak gelaai in 'n sak en noem dit Leslie. By die rivier verdrink Leslie twee keer amper. Ons wou nie die arme hoender in die warm kar los nie, want dan sou dit in elk geval nie kon oorleef, so Leslie is saam rivier toe. In die skaduwee langs die rivier spring Leslie op 'n stadium op met sak en al en beland in die water. Gelukkig kon Wynand sy/haar lewe red. Terwyl ons vuur maak en weg kyk beland Leslie weer in die water en ek weet nie vir hoe lank nie, maar toe ek hom/haar uithaal en bietjie skud toe kom daar gelukkig nog geluide uit die sak. Normaalweg moet sy kop deur 'n gat in die sak buite uitsteek, maar in die proses het die sak gedraai.
LESLIE
Leslie was 'n groot uitkoms van die familie van Acasio, want hulle het geen bykos in die huis om vir ons te gee nie en daar word Leslie se lewe ook beeindig en eet ons vir Leslie op die aand. Vir die volgende dag het ons 'n blikkie ham en bietjie olie gegee vir bykos sodat hulle dit in skywe kan sny en bietjie braai oor die vuur om saam met die pap te eet.
Ons verwonder ons aan die deursettingsvermoee van daardie familie, want hulle moes 'n paar groot teleurstellings deurleef. Hulle het katoen gekweek, maar die man wat dit koordineer het vergeet om vir hulle te se toe dit opgekoop is. Hy moes dit weggooi. Die Moslem geloof maak dit nog moeiliker om aanvaarding in die gemeenskap te kry. Met dit alles, bly hulle blymoedig en kon ons baie deel oor swaarkry en God wat in Jesus swaarkry ken en dit met ons deel en ons daardeur sal dra. Ons deel met mekaar tye van twyfel en deurbrake.
Ons ry uit na een van die senters en daar kon ons vir 'n drie ure lekker met die paar mense wat daar was gesels oor geloof en hoe om vir Moslems lief te wees en hulle te dien. Dan ook Dawid en Goliat se storie en Wynand wat lekker groot gebou is, word toe Goliat. Ons praat oor soldate wat net die reus sien en 'n seun Dawid wat meer sien en deur God gebruik word om die vyand op die vlug te laat slaan. Sy visie deur geloof.
Sondag is ons na die ander senter en moes ek die boodskap bring. Ek wou kort preek, maar dit is meevoerend as die Gees van God met mense begin werk.
Ons vertek eers na 'n ete en moet toe deurdruk tot by Dere waar ons in die donker aankom. Ds Dionisio Cinco Reis (Vyf konings) is baie rustiger as die ander dominees. Ons kry 'n ete en dit gaan bietjie beter in die huis omdat hy 'n vennoot in RSA het wat hom help met R500 per maand. Die volgende dag word ek gevra om toerusting te gee en dit doen ons die hele dag. Weer neem die Gees oor en kort kort is ons vreugde groot om te sien hoe Hy werk. Die dominee het bv sekere stellings gemaak oor tradisies en die mense het geworstel om dit te aanvaar. Ek het “toevallig” dieselfde stellings gemaak vanuit 'n ander hoek. Later het die sterkste ouderling opgestaan en dankie gese, want ek het dieselfde goed as hulle dominee gesê en nou weet hy dit is waar. Ek lê ook baie klem op die roeping van die gemeente om die gemeenskap lief te hê en te help anders is ons nie kerk nie. Wat vir my lekker was om te sien is dat die mense die agenda van die gesprek op die tafel sit. Ek vra hulle uit oor die gemeente en die omgewing en hulle lewens. Daaruit kom die onderwerpe op die agenda en so betrek die Here hulle in Sy proses. Dit is in elk geval hoe ek dit beleef het. Ds Dionisio het na die tyd sy hart oopgemaak en vertel van hoe die Here hom op talle maniere deur drome gehelp het en verdere persoonlike stories vertel. Die man het 'n baie goeie kennis van die Bybel en regtig 'n goeie teologiese verstaan daarvan. Dit kan wees dat die gemeente nou weer nuwe rigting gekry het.

Dit bly regtig 'n ongelooflike voorreg om die werk te kan doen en Wynand beleef dit ook as 'n baie verrykende ervaring! Hy sê ook: The first of many to come!

Thursday, November 13, 2014

Huisbesoek in Ile (Errego)

Die eerste huis was uur se ry aan 10 km en daarna 'n halfuur se loop deur riviere en oor klippe, In die gesprek daar onder die boom praat ons oor elke persoon se roeping en hoe die Here vir elkeen 'n werkie het om te doen. Ek vra to die ouderling uit oor sy lewe en in die proses hoor ek dat hy voel die Here roep hom om mense te help wat gepla word deur drome en slegte geeste. Hy bevestig toe teen die einde dat dit die rede is waarom hy in daardie area is.
By 'n ander huis vind ons 'n vrou wie se man haar gelos het en sy het 'n besigheidjie op die mark om vir vier kinders te sorg. Sy vind toe uit dat sy die gawe gekry het om met kinders te werk. Op die vraag of sy nie vir meer as haar eie kinders kan help nie is sy toe baie positief. Sy het onmiddelik oopgemaak en gevoel dit is haar deel van kerkwees. Sy sal kinders kan begelei in talle geestelike waardes en wanneer hulle deur puberteit gaan ens. Sy sal vir hulle mama wees, want baie het nie 'n regte voorbeeld van waaroor die lewe gaan nie.
By 'n ander huis was ek reeds voorheen saam met ds Ualize. Dit was die man wat nie kon bid nie en hoe hy vertel het van die droom oor die man wat onregverdig dood gemaak is en toe weer opgestaan het. Eers 10 jaar later het hy by 'n sendeling gehoor dat die man Jesus is. Vandag het hy vir ons van baie meer baie interesante drome vertel. Ons probeer hom toe help om te bid deur hom reeltjie vir reeltjie voor te se. Skielik trek hy toe los en praat met die Here soos hy nog nooit in sy lewe kon doen nie. Toe hy amen se is ons al drie op die been en word daar gedans dat die stof so staan.
By 'n ander kerkie praat ons met 'n ouderling wat kla dat die mans nie meer kerk toe kom nie. Hulle is besigheidsmense wat Sondae ook funksioneer. Ons kon toe lank gesels daaroor dat God dalk wil he ons moet na die besigheidsmense toe gaan en nie probeer om hulle in die kerk te kry op Sondag nie. Ineresant genoeg het dit baie byval gevind. Daar is ernstig gesels oor die nodigheid om uit te beweeg na die besigheidsmense en hulle te leer ken. Ons moet hulle behoeftes bepaal dat ons vir hulle kan help.
In 'n ander besoek kon ons toe juis dit doen.
Julle moet maar eendag saamkom, want ek kan nie die ervarings heeltemal reg aandoen deur dit so te vertel nie.
Vannaand kom daardie ouderling wat ons eerste besoek het na ons toe en vertel hoe sy vrou al vir hom begin kwalik neem, want hy word orals in die kerk rondgeplaas. Hy het net altyd vir haar belowe dat daar iewers in die toekoms 'n geheim is wat die Here vir hom wil gee. Gister toe hy ontdek dat hy geroep is om mense met slegte geeste te help, het hy en sy vrou geweet dat die Here nou die geheim aan hulle geopenbaar het. Dit is wat hulle moet doen en skielik is sy vrou ook saam met hom in die bediening. Hy het blykbaar die hele nag kort kort wakker geword en daaroor gele en dink. Dit is duidelik vir hom dat hy nou sy doel ontdek het.

Geestelike konferensie tydens Tumbine sinode se sitting

Dr Chatha Msangaambe is gevra deur die KGA om te help met 'n geestelike konferensie tydens die Tumbine sinode se sinodale vergadering.
Kom ons kyk gou wie sit op die harde bankies van die kerk en luister na die man. Dit is mense van verskillende gemeentes wat oor 'n gebied van 'n 1000km in deursnee lê. Daar sit dominees wat te voet meer as tien kerkies moet bedien en dikwels tot 80km ver moet loop om by hulle kerkies te kom. Hulle werk in gemeenskappe waar dit krities is vir oorlewing om deel van die gemeenskap te wees. Die gemeenskappe funksioneer egter op grond van tradisionele denke en gebruike wat nie in ooreenstemming is met die boodskap wat hulle moet verkondig nie. Die boodskap word dikwels in konflik van mense oorgedra en maak dat die bedienaars van die woord, ouderlinge en lidmate in kluis, dikwels geweldige uitdagings het en dikwels moet stry met verhoudings. In kort is dit 'n kerk wat swaar kry en nie is waar hulle wil wees nie. Toe die vergaderings begin is daar baie eerlik gepraat oor die seer. Hulle is nie die kerk wat hulle moet wees nie en hulle wil die Here vertrou om meer so te word.

Dr Chatha gebruik die boek van Jona as basis.
Ek noem so 'n paar goed wat ek kan onthou.
God stuur vir Jona na 'n plek wat hy nie ken nie waar hy geen belange persoonlik het nie. As die Here jou stuur, dan is dit dikwels nie waar jy wou wees nie.
Die Here gee hom nie die finansies daarvoor nie, hy moes op sy eie kostes gaan.
Hy erken sy fout op die see en ons praat oor die erkenning van ons foute.
In die vis leer ons van gebed en God se teenwoordigheid. Oorgawe en verandering van ons wil.
Hy verwys ook na Dawid en Goliat en hoe almal bang was en onseker en kyk net na dit wat die mens se oog kan sien. 'n Reus met groot wapens en baie krag. Dawid het egter 'n visie op God want die leeu en die beer was sy verwysing. Daar het God hom gehelp. Dawid tree op uit die realiteit van God.

Met afsluiting hier het die moderator Antonio Ualize voor almal op sy kniee gegaan en gevra dat ons oor die belangrike visie vir die kerk sal bid. Die gebede is opreg en hy sluit af met 'n roerende gebed oor God wat die Kerk op 'n nuwe manier wil gebruik. Hy bid vir 'n gees van gebed en 'n hart vir mense wat God nodig het. Toe hy opstaan vee hy die trane uit sy oë. Dit het almal stil gemaak. Daar is regtig 'n begeerte vir nuwe groei.

Monday, August 11, 2014

Wanvoeding van kinders in Mosambiek

Ek het nie baie kennis hieroor nie, maar glo dat wanvoeding 'n groot invloed op 'n persoon se ontwikkeling het, veral as dit in die groeitydperk van 'n persoon plaasvind. My logika se vir my dat ingryping hier 'n groot verskil kan maak.
Zambezia provinsie is die provinsie waar ons kontakte met die kerk het.
Wat reeds op die grond gebeur op die gebied is die mediese projek en dan die Anamed projek wat die gebruik van medisinale plante aanmoedig en mense oplei hoe om dit te gebruik. Myns insiens 'n projek met geweldige potensiaal indien dit gekombineer word met mense se medisinale wêreldbleed.
Anamed gebruik die Moringa boom as 'n voedingsbron vir vir wanvoeding. Die boom groei baie goed in Zambezia provinsie en kom selfs wild voor. Dit het al die amino sure en is ryk aan Kalsium, potasium, vitamin c en nog ander. Daar is reeds soveel getuienisse van amper bonatuurlike verbetering in kinders se gesondheid wanneer dit gebruik word vir wanvoede kinders en dit kan so maklik aangeplant word of net geoes word waar dit reeds bestaan.
Is daar nie dalk mense vir wie die Here dalk aanraak oor die uitdaging nie. Ek sal ook help waar ek kan met so 'n inisiatief.

allAfrica.com: Mozambique: 43 Percent of Children Chronically Malnourished

Friday, August 8, 2014

Die Here gebruik Annlin geref Kerk in Mosambiek

Annlin gemeente ry op uit Pretoria en besoek eerste die gebedshuis Niquide, waar hulle beplan om 'n kerkie te bou.
Die gemeente het reeds 'n verhouding met die gebedshuis gebou en besoek hulle om verhoudings te versterk en hulle aan te moedig. Hulle begin die kerkie bou en kom agter dat die mense baie min bou agtergrond het en dus gaan dit nie oor die bou van die kerkie nie, maar die ontwikkeling van mense en hulle leiers. Die Here gee ons geduld om nie net 'n taak te gaan klaarmaak nie, maar om die proses te gebruik in die ontwikkeling van mense. Klein oorwinningtjies raak baie belangrik en ons sien Hom werk.
Die dominee se seun kom saam en sy teenwoordigheid help baie om kinders te bereik.
Annlin bou verhoudinge met evangeliste en jeugwerkers in Mocuba en hier staan Elisa baie trots met haar opleidings sertifikaat in kinderwerk.
Die span word deel van mense se lewens, moet maar hulle opofferings ook maak!
Ek kom by en my bagasie word bo-op gepak!
Kos word gedeel en ons leer met hande allerhande lokale kosse te eet.
Ons beweeg saam met Gile se dominee rond en besoek plekke wat vir hom soms drie dae te voet vat om te besoek.
Die opleiding waarmee die span help is basiese evangelie en dan spesifieke versoeke soos familieverhoudings ens.

Die groot waarde gebeur met besoeke aan afgeleë gebiede en hoe dit die mense aanmoedig en so ook die dominee bemoedig. Hy werk onder geweldig groot druk, want dit is nie maklik om die Bybelse koninkryk te vestig in 'n tradisionele gemeenskap nie. Hy getuig ook daarvan dat die span hom in so 'n mate gemotiveer het dat hy weer nuwe planne begin maak het.
Die span kom by huise uit, bid vir siekes en leer baie van die lewe in Mosambiek. Daar word ook siekes gehelp om by hospitaal uit te kom.
Maganga die teologiese student beweeg saam met ons as tolk, maar ook as leermeester vir die kultuur. Hy is baie oop en leef Jesus se liefde.
Die dominee en sy familie speel 'n groot rol in die Here se werk en ons kuier lank by hom en hoor al sy ongelooflike uitdagings en ons bid en pleit saam met hom vir die mense van Gile. Bid saam vir hom sy vrou en 5 kinders. Estévao Philima

Ons sal nog lank waardering hê daarvoor om 'n kraan oop te kan maak en daar kom water uit wat jy kan drink!
Aan God die eer vir 'n betekenisvolle saamwees in Mosambiek

God se storie deur Lenie

Ek wens ek kon Lenie se storie meer volledig onthou! Aangesien ons saam werk sal ek wel meer hoor.

Op Mooiberg besoek ek die besonderse plaasbediening waar die Here die Familie kerk gebruik.


Twee weke voor die diens gesels ek met Lenie. Sy is 'n vrou wat jy kan sien 'n leier gaan word in die toekoms. Ek daag haar toe uit om dit wat sy geleer het met ander te deel. Haar reaksie was dat die Here al lankal besig is om met haar te praat daaroor.
Die Sondag staan Lenie (meisie soos die ander haar noem) op en begin haar storie te vertel.
Sy vertel van haar ouers wat gedrink het en hoe sy onder haar pa swaar gekry het. Haar ma het haar soms probeer beskerm, maar sy het ook gedrink. Sy moes van jongs af werk en het nooit skool toe gegaan nie. Sy trou toe ook met 'n man wat drink en haar lewe baie moeilik maak. Sy hanteer die situasie, maar as hy haar dogter seermaak, dan het dit haar gebreek. Sy kon haar nie bekerm nie. Haar dogter sit saam met ons in die diens. Lenie het tot bekering gekom en wou vreeslik graag weet wat in die Bybel staan, maar sy kon nie lees nie. Daardie boek was vir haar ontoeganklik. Haar begeerte om te leer was so groot dat sy in die oggende van die plaas af gesluip het en tussen die graad eentjies gaan sit het in die skool om te leer lees. Sy is nou 54 jaar oud en sy is vol vreugde. Haar man is besig om te verander en sy kan nou lees. Sy lees toe Psalm 23 vir almal voor en die trane in die vertrek kon nie terug gehou word nie. Sy getuig dat die Here haar gered het en sy gee alle eer aan Hom.

Aan die een kant van die vertrek sit Bok met 'n tamboeryn in die hand. Hy speel met groot vreugde saam as daar gesing word. Hy is nie heeltemal nugter nie, maar hy mis nie 'n Sondag om daar te wees nie. Niemand veroordeel hom nie, hy word aanvaar.
Voor die diens arriveer ek vroeg en stap na die huisies onder die kerk waar 'n gerookte afdak met vuurtjie die bymekaarkom plek is. Daar word gedrink en gekuier en gesels. Ek kuier daar vir 'n halfuur in die rook en Bok vertel my onder andere dat die ouens wat die kanne wyn verkoop dit teen R50 'n kan verkoop, maar as jy kontant betaal moet jy R60 betaal. Hy verkies dat jy skuld maak.

Iewers spreek hierdie kerk storie vir Bok aan!

As iemand die bedieninge wil beleef, kontak my en ry dan een Sondag saam soontoe. Dit is 5km buite Brackenfell.