Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Wednesday, August 18, 2010

Gesprek in mosambiek wat wys op redes vir vreemdelinge (haat)

Ek kuier in 'n gemeente en probeer 'n motivering te wees vir die werk wat daar gedoen word. In die gesprek probeer ek eers luister na problematiek van die plaaslike bediening. Die dominee vertel my in 'n lang gesprek wat op die volgende deurkom:
Die deelname van mans in die gemeente is 'n probleem. Verder is daar 'n probleem met leierskap waar een ouderling probeer om alles te bestuur en so ook met baie ander bots in hantering van geld ens. Die dominee het goeie ondersteuning uit die gemeente gehad, maar later het mense al minder belangstelling getoon en minder gehelp. Hy noem bv dat mense in die straat verbyloop en baie kom nie meer in en groet soos die gewoonte is nie. Daar is nog wat dit doen, maar nie meer soos in die begin nie.
Nou het die seun van die hoof ouderling 'n bal wat vir die gemeente gegee is op die mark gaan verkoop en die geld tussen 'n paar van die seuns verdeel. Nou is die gemeente weer opnuut kwaad vir die leier en sy familie, maar ook steeds te bang om regtig iets daaraan te doen. In die ondersoek van die saak lyk dit asof daar ook mense is wat hom as dominee nou wil betrek. Hulle se dat hy deel was van die komplot en dat hy ook van die geld gekry het, want die seun het net voor hy die bal gaan verkoop het die bal by sy huis kom opblaas.
Ek vra toe die vraag aan hom of hy weet waar sulke optrede en motiverings vandaan kom. Hy dink toe so bietjie daaroor en antwoord :"Die mense in die kerk wil altyd konings." Hy lag toe ek weer vra maar hoekom wil mense koning wees. Na so tydjie toe antwoord hy: "Hy dink dit is omdat dit gaan oor krag. As mense van buite af inkom dan word daar geglo dat die mense met die posisies wat hulle beklee, jou krag steel."
Ter verduideliking is dit so dat in die Animistiese kultuur daar 'n beperkte hoeveelheid krag of seen is vir elke groep of familie. Die krag moet gelykop verdeel word. As iemand meer voorspoed as ander beleef dan word daar gevra:"Waar het hy dit gekry." en die antwoord is: "Hy het dit by die ander gesteel want krag is beperk, daar is nie ekstra los krag wat rondle nie." Die enigste uitsondering is die hoofman of koning. Om hierdie rede is daar ook so 'n sterk strewe daarna om koning te wees.
Met die ontdekking wat hy toe self maak, kon mens daarop wys dat mens oppervlakkig hard moet werk aan die verhoudings, maar jou fokus moet eerder wees op die denkpatrone wat die probleem veroorsaak, want dit is daar waar ware transformasie kan plaasvind. Daarvandaan het die gesprek toe uitgeloop op die vergelyking van 'n Bybelse benadering tot lewe en 'n tradisionele benadering. As daar aan die tradisionele kant 'n beprekte hoeveelheid krag is, is daar aan die Bybelse kant 'n fontein van lewende water wat so baie is dat jy nie jammer is daarvoor as jy dit uitdeel nie. Verder as verhoudings aan die tradisionele kant uitruil transaksies is daar aan die Bybelse kant 'n God is wat met alles teenoor die mens die Goeie wil. Jou geluk, vreugde en sinvolle lewe is wat Hy wil. Hy wil die goeie vir enige mens. So het ons die lys aangevul en besef dat dit 'n proses van verandering is van die een na die ander. Ons het ook baie klem daarop gele dat mens soms met 'n veroordelende houding die proses baie skade doen in plaas daarvan om iemand in al sy foute aan die hand te vat en te begelei na die ware lewe toe. Veral die punt het vir hom en ook van sy ouderlinge baie aangespreek, want hulle het gese dat die kerk nie so is nie.
Daar is ook 'n dominee wat van buite die omgewing saam met die kerk werk. Nou is daar aantuigings teen hom gemaak en die kerk is nou baie versigtig om enige standpunt in te neem. Se hulle dat hy wel skuldig is, dan sal dit vir baie die bewys wees dat die sinode nou medisyne geplant het om alle vreemdelinge uit hulle midde te verwyder. Vind hulle hom nie skuldig nie, dan is daar baie wat glo hy skuldig is en hulle nie regverdig is nie. Die kerk het besluit om eerder te se dat daar aantuigings was, maar dat hulle nie konkrete bewyse gekry het nie en hy dus nog steeds aangaan.
In 'n gesprek met 'n dominee kom dit toe uit dat die kerk baie versigtig is met die saak in hulle kommunikasie met die ander sinode waar die beskuldigde persoon nou is. Dit het natuurlik geskiedenis ook. Op die ou end vra ek toe of hulle nie maar eerlik kan wees en se ons is versigtig nie want daar is stories wat rondloop dat ons medisyne geplant het en ons wil nie daardie beeld versterk nie. So sal die waarheid hulle ook kan vry maak om die saak eerlik te hanteer. Die probleem is dat daar nie oor die soort van goed in die kerk gepraat word nie, want dit is verkeerd en 'n kerk kan nie daarmee geidentifiseer word nie. Ten spyte daarvan dink die dominee tog dat mens dit kan waag om eerlik te wees, want dit is tog die realiteit.

No comments:

Post a Comment